Hoe gemaak met...September is Boomplantmaand
24/09/09
By:
Verslagspan
Dit is alweer September en tradisioneel vier ons Boomplantmaand.
Dit is alweer September en tradisioneel vier ons Boomplantmaand.
Vir vanjaar (2024) is die volgende bome gekies as boom van die jaar:
1. Searsia ( Rhus ) lancea; Gewone karee is 'n immergroen boom met 'n ronde kroon wat tussen 5 - 10 meter hoog word.
Bas is grof en donkerbruin, blare leeragtig met 3 glansende blaartjies tot 150mm lank. Blomme is klein, groengeel, manlike en vroulike blomme aan verskillende bome, vruggies is rond en effens afgeplat.
Die ryp vruggies is eetbaar, met 'n suur smaak, tee kan ook van die droë vruggies gemaak word en het 'n aangename smaak. Kom wydverspreid deur Suid Afrika voor.
2. Searsia ( Rhus ) leptodictya; Die Bergkaree is ook 'n immergroen boom met neerhangende take, bas is ook grof en donkerbruin.
Digte kroon en boom kan tot 8 meter hoog word. Blare met 3 blaartjies, blaarrand meestal getand. Blomme in trosse aan takpunte, manlike en vroulike bome apart, vruggies is afgeplat.
Kom meestal in die noorde van Suid Afrika voor, veral teen klipperige hange.
3. Apodytes dimidiata;
Die Witpeer is ook 'n immergroen boom met 'n oop spreidende kroon en kan baie hoog word, tot 25m. Jong bas pienkerig tot perserig. Blaarsteel pienkerig, kroonblare teruggekrom. Blomme in oorvloed in los hofies, wit en soetgeurig.
Vrug is 'n afgeplatte swart steenvrug met 'n vlesige rooi aanhangsel. Hout is ligpienk tot grysbruin, fyn, baie hard en swaar. Kom wyd voor van uit die noorde, al teen die oostelike gebiede tot in Wes-Kaap.
Al drie hierdie spesies is geredelik beskikbare bome en hulle aard goed in ons winter reënval klimaat.
Indien jy nie een van hierdie spesies kan vind nie, plant enige boom van jou keuse en wat aan jou spesifieke omstandighede en behoeftes kan voldoen.
Ons moet onthou, die hoofdoel van bome plant is om 'n groen fabriek daar te skep, wat die baie koolsuurgas kan omsit in suurstof en sodoende laat ons 'n groen voetspoor na.
Wanneer jy 'n boom (of selfs 'n groot struik) moet kies om te plant, is daar 'n paar dinge waarna jy moet kyk:
1. Hoe groot gaan die boom word, het ek genoeg spasie? Daar is baie bome om van te kies, party groei;
- dun en piramidaal,
- groot en rond ,
- hoog met 'n plat kroon (bv. Doringbome).
2. Is die boom immergroen of bladwisselend want dit gaan ook bepaal of dit aan jou behoeftes sal voldoen. Indien jy skaduwee in die Somer soek en son in die Winter (soos bv. voor 'n venster of skuifdeur wat Noord front) dan sal 'n bladwisselende boom perfek wees. Op 'n grasperk is 'n bladwisselende boom ook 'n beter keuse, sodat dit die meeste Winterson kan deurlaat, omdat die meeste grasperke nie in skaduwee suksesvol groei nie.
3. Hoe gaan die boom se wortels die onmiddelike omgewing beinvloed? Daar bestaan ongelukkig geen waarborg vir enige boom se wortel groei nie, boomwortels groei eerstens agter water aan. Begin deur die plantgat van die boom reg voor te berei, want dit is die boom se fondament ( kom kry by die Kwekery 'n pamflet met al die inligting ). Gee die boom genoeg water waar dit geplant is, anders gaan hy dit elders met sy wortels loop soek.
4. 'n Jong boom moet ook deeglik gestut word, anders gaan die wind dit skeef druk of selfs afbreek. Al die inligting is by die kwekery beskikbaar.
Voorspoed met die uitsoek van jou spesiale boom, lekker tuinmaak.
Tuingroete en geniet Lentedag!
George Retief
Latest News